Thursday, February 9, 2012

'n Nuwe Lewe - 'n Pretriller


"Ek emigreer more as dinge so aangaan in die land. Geen mens is meer
veilig nie - nie eers in jou eie huis nie!"

Waldemar se stem het 'n bulderende voordragkwaliteit selfs by ontbyt.
"G'n normale mens kan dit meer uithou met die misdaad en wanbestuur nie. Die ekonomie lyk treurig en niemand is meer seker van sy werk nie. Praat nie van die misdadigers wat soos konings behandel word nie!"
Annie hou sy hand dop wat agter die koerant uitkom, 'n sny roosterbrood raakvat en dan weer verdwyn.
"Moelikheid is net dat niemand wil leer nie. Almal voeter maar net voort en hoop dat dit volgende week beter sal gaan. Klomp sukkelaars!"
Hy sit die koerant neer om die roosterbrood te smeer met die verminderde kalorieë bottersmeer en diabetiese konfyt.
"AI oplossing is om alles te laat styg - die petrolprys is seker die belaglikste van alles. Nou moet ons almal daaronder ly."
"Ja, skat, ek weet." Annie se stem was rustig, haar reaksie outomaties, dit wat van haar verwag word. Sy kyk toe terwyl hy sy ontbyt klaar eet, luister pligshalwe na sy aanmerkings oor die politieke geknoei, die strydvraag oor die herinstelling van nasionale diensplig en wat die regering behoort te doen. En terwyl hy badkamer toe gaan om sy tande te borsel, staan sy op om sy jas en aktetas te kry. Wanneer hy terugkom, wag sy vir horn by die voordeur.
"Dis reg, skat." Hy staan vir 'n oomblik voor die spieel, gaan sy voorkoms stap vir stap na. Rek sy oë effens en bewonder die effek wat sy brillose gesig deesdae het. 'n Noukeurig gemanikuurde hand vee 'n grys haar terug in sy plek.
"Wat beplan jy vir aandete?"
"Ek het gedink aan lamsbredie, sag, met 'n witwynsous en ... "
"Geen uie nie?" vra hy effe agterdogtig, en sy skud haar kop. Teen die tyd behoort sy darem al te weet dat hy allergies is vir uie.
"Ook geen knoffel nie. Jy weet dat ek nie meer knoffel eet nie. En niks kruie nie, asseblief."
Hy trek sy mond op 'n plooi.
"Ek hou nie van die smaak van kruie nie. Miskien moet jy maar die sous ook vergeet. Dalk is dit die wyn wat my so opgeblase maak. Berei eerder geroosterde hoender voor. Met opgekookte aartappels, natuurlik - nie gebraai nie. En moenie botter op die groente sit nie."
Hy kyk haar versigtig aan.
"Watter groente het jy aan gedink? Seker nie kool nie?"
"Nee, nie kool nie," se Annie sag. "Miskien groenbone, of vars brokkoli. Ek het gister by ... "
Hy skud sy kop. "Eerder nie. Net ertjies en wortels. Nouja, ek moet ry. Daar Iê 'n lang pad voor vandag. 0 ja, ek het jou mos van volgende week vertel, nie waar nie - 'n belangrike kongres, en ek moet vroeër ry. Ons bespreek dit later. Ek het nie nou tyd daarvoor nie."
Hy buk vorentoe om 'n droë piksoen op haar wang te plak.
"Miskien voel jy Ius om die stort 'n deeglik skrop te deur die dag te gee. Dit lyk asof daar 'n aanpaksel op die teëls is. En die gras moet gesny word. Jy weet hoe vinnig groei die gras as dit nie gereeld kort gesny word nie."
Hy is uit by die deur. Draai terug om sy sleutels te kry. Sluit die garage oop en verdwyn daarin. Die klank van die motorenjin bereik haar ore en oomblikke later verskyn die groot Duitse motor en die die bestuurder in haar gesig. Annie maak die motorhuis se deur toe, waai vir oulaas en gaan terug in die huis.
'n Vars koppie koffie voor sy met die huis begin, en 'n vinnige kykie na die tydskrif wat Waldemar agtergelaat het. Dit was haar tydskrif, hierdie een. Hy lees dit altyd eerste, en verdoem dit altyd as sensasie en 'n geskinder. Hoekom sy nog die ding koop weet nugter alleen. Maar dit het haar nog altyd geamuseer. Al die interessante stories - die verhale van die verwerpte Vigslyers, die hoë egskeidingssyfers, die verhaal van lang verlore susters of kinders. Waldemar steur hom nie aan sulke dinge nie. Dis onbenullighede in sy wêreld. Tog lees hy dit.
Annie drink 'n laaste sluk koffie en maak die tafel skoon. Sy was die skottelgoed en droog af. Voel lus om dit netso op die droograk te los. Maar Waldemar het eendag vroeër huistoe gekom en haar uitgevang. Vir 'n paar maande het hy haar elke oggend daaraan herinner. Daarom stof sy elke dag af - Waldemar sal nooit openlik wys dat hy haar werk nagaan nie, maar hy trek gou sy skoon vinger oor die tafel of 'n rak as sy dit dalk oorgeslaan het.
Vandag, terwyl sy die badkamers skoonmaak, skrop sy die stortvloer, wat net hy gebruik, en voor sy die winkels invaar, kry sy haar daaglikse oefening gedoen agter die grassnyer. Waldemar was reg, soos gewoonlik. Die gras moet gereeld gesny word. Sy onberispelike tuin wat sy onderhou. Geen tuindienste en geen moderne toerusting in sy huis nie. Behalwe natuurlik die digitale skottel en videomasjien, moenie van die ultra modeme skootrekenaar vergeet nie.
Dit is 'n jammerte dat hulle nooit tyd het om in die tuin te sit nie. Waldemar was 'n onvermoeide en harde sakeman, en put blykbaar plesier uit sy dryfkrag. En, sluip die dislojale gedagte in, om haar te dryf. Maar as sy heeldag moes rondsit, sou dit mos onregverdig wees teenoor die arme hardwerkende Waldemar. Hy verwag van haar dat sy haar deel sal doen - of sy dit nou geniet of nie.
Middagete. Annie gaan sit by die venster, heeltyd gereed vir 'n onverwagse besoek van Waldemar. Hy sal nie omgee as sy by die venster sit en eet nie, maar hy sal dit as 'n grap beskou, en sy grappe het gewoonlik 'n nadraai.
Na middagete, bad Annie vinnig en trek iets aan wat netjies lyk. Waldemar verkies dat sy netjies en sjarmant moet lyk as sy dorp toe gaan. Hy haat vrouens wat langbroek dra, en sy besit nie eers 'n paar jeans vir tuinwerk nie. Sy trek 'n vlootblou pakkie met 'n strak wit bloes aan met vlootblou hofskoene. Die nuwe diksoolmodes lyk vir haar so gemaklik maar Waldemar sal 'n oorval kry as sy met so 'n paar skoene by die huis moet aankom. Daar is nie baie inkopies om te doen nie, want daar is nog hoender in die vrieskas.
Sy hou egter van uitstappies in die middag, en Waldemar ook. Dit gee haar darem saans iets om oor te gesels voordat hy homself voor die televisie en al die aktualiteitsprogramme tuismaak.
Die nuwe winkelkompleks het hulle vensterversierings verander en sy stap nader om daama te kyk. Nie dat sy dit eintlik kan bekostig om daar te koop nie, maar Waldemar glo in goeie kwaliteit. Ongelukkig is daar niks in die die venster waarvan hy sal hou nie. Lank staan sy en kyk na 'n paar jeans, wonder sy hoe dit sal voel om dit aan te trek. Oor die figuur beskik sy ongetwyfeld. Waldemar hou nie van vet mense nie. Sê hulle is niks anders as bewegende worsstoppers nie. Sy deel nie sy siening nie, maar sy hou maar die meeste van die tyd haar opinie vir haarself. Sy haat konflik.
In haar verbeelding probeer sy haarselfvoorstel met 'njean en 'n wit oorhang hemp ... en sy faal liederlik. Dit is eindelik die rok wat haar oog vang. Vloeiend, vol. 'n Kreet, 'n jubeling, van vrolikheid - al die mooiste aardse kleure. Bruin, swart, goud. Primitief, soos die kleur van 'n wilde dier. Dit word twee maal vertoon, met en sonder die band. Haar aandag is vasgenael, en Annie weet dit sal haar perfek pas. Haar hart begeer dit met 'n stille desperaatheid. Tog weet sy sy sal dit nooit besit nie. Nie terwyl sy met Waldemar getroud is nie.
Na 'n rukkie draai sy om, al sugtende. Haar skouers hang. As dinge net anders was. Sy kom egter nie ver nie. 'n Gil laat haar omdraai.
" Annie! Dit is mos Annie, ne? Annie Botha?"
Annie staar na die vrou wat na haar aangestap kom. Sy erken haar nie onmiddellik nie. Waar het sy daardie lang, lenige figuur al gesien? Die vrou het 'n los, onnette hemp aan, ingedruk by 'n paar verbleikte jeans. Haar hare is windverwaaid met 'n breë, vriendelike glimlag op haar ongegrimeerde gesig.
"Annie! Dit isjy! Moenie lyk asofjy gaan omval nie,jong. Erkenjy my nie? Corrie Bredell. Nou is dit Corrie du Preez. Moenie sê jy onthou my nie! Ek het altyd so 'n dikraambril gedra met drade in my tande."
"Natuurlik onthou ek! Wat doenjy hier, Corrie?"
Annie voel half verslae en terselfdertyd opgewonde. Sy het nie eintlik vriendinne nie en sy weet nie eers hoe om met een te praat nie. Corrie en sy was sulke groot vriende. Op skool het hulle alles saamgedoen, al hul geheime gedeel, huiswerk afgeskryf, oor dieselfde ouens gegiggel en gesels, en geëet asof dit uit die mode uitgaan. Sy sluit haar oë vir 'n wyle. Dit was soos 'n ander wêreld, een wat sy nie eintlik kan onthou nie. 'n Deel van haar lewe wat heeltemal verdwyn het.
"Voel jy goed, jong?" Corrie vat haar aan haar arm en skud haar liggies.
"Ek het nie gewoonlik so 'n invloed op mense nie, al het ek hulle twintig jaar laas gesien. Annie, dis feeste! Ek het gedag ons sal mekaar nooit weer sien nie. Bly jy hier?"
Haar gesig het gegloei van opgewondenheid. Annie kyk na haar. Sy lyk 'n goeie tien jaar jonger as wat sy is. Corrie straal absoluut.
"Want ek bly ook hier. Ons het verlede week hier ingetrek en ek ken nie 'n siel nie. Is jy besig? Knyp net so ou uurtjie af, man. Kom saam huis toe en drink 'n koppie tee by my. Ons het baie om oor te gesels. Die huis is natuurlik nog in 'n chaotiese toestand - jy weet mos hoe lyk dit wanneer mens trek. As ek wag tot alles netjies is, gaan ek nooit uit die huis uit kom nie!"
Haar lag is klokhelder. "Kom, dis nie ver nie. Ek moet net vir Lien en Lukas by die skool gaan haal. Ons kan binne tien minute daar wees."
Sy hou Annie aan haar arm vas, al beduiende, pratende. Annie stap willoos saam. Hulle stap na die laerskool, wat skuinsagter die winkelsentrum is, en Annie luister verwese. Sy kan dit nie glo nie en vergeet selfs wat Waldemar mag dink.
Corrie was altyd Annie se teenoorgestelde, haar antoniem. Mense het altyd gesê dit is hoekom hulle sulke boesemvriendinne was. Corrie het vir Annie uit haar dop laat kruip en nooit toegelaat dat sy terugkruip nie. Corrie het vir haar die buitewêreld gewys en sy het dit geniet, deel geword daarvan. Nuwe vriende ontmoet en gedoen wat haar gelukkig gemaak het.
Toe word Annie se pa verplaas en meteens was sy alleen in 'n nuwe dorp, terug in haar dop. Waldemar het haar daar gekry en vir 'n rukkie het sy sy dominerende sterkte verwar met die invloed wat Corrie op haar gehad het. Hulle was getroud toe dit reeds te laat was. Sy was verkeerd. Terug was sy in haar dop en Waldemar het geen poging aangewend om haar daaruit te kry nie. Altans, hy wou haar daar hou.
"Is dit jou kinders, Corrie?" vra Annie terwyl die twee kinders, 'n tweeling, hulself om Corrie wurm. Corrie kyk op, haar gesig gloeiend gelukkig.
"Ja, ek is bevrees so. Die oorstootdrie en vervyfskop in beseringstyd. Die ander twee is al uitgegroei. Pieter is 'n eerstejaar dramastudent en Karien is nou in Matriek, of graad 12 soos daar mos deesdae gepraat word. Hierdie twee hou my omtrent besig terwyl die ouderdom my bekruip."
Asof Corrie ooit sal oud word, dink Annie. Die kinders stap weerskante van haar en babbel onverpoosd voort.
"Hoeveel kinders het jy, Annie? Ons het mos altyd gedroom om elkeen 'n hele rugbyspan aan die wêreld te lewer."
"Ek en Waldemar het nie kinders nie." Sy wou eintlik gesê het dat sy jammer is daaroor maar het haarself gekondisioneer om nooit verskonings aan te bied nie. Dit was immers nie haar fout nie. Toe sy en Waldemar getroud is, het sy nie besef dat hy nie kinders wil hê nie. Nooit het sy kon dink dat hy so ontoeganklik oor kinders sou wees nie. Nooit kon sy besef wat die gevolge daarvan kon wees nie. Die lang hartseer ure alleen terwyl sy
na 'n klein bondeltjie menswees gesmag het, die grootmaak van 'n kind.

Die honger pyn wat aan haar geknaag het as ma's hul kinders by die skoolhekke inwag en die vertoon van skooluniforms in winkelvensters aan die begin van 'n nuwe skooljaar. Die barbaarse moedeloosheid wat haar op die mees onverwagse tye oorval het.
Waldemar het nooit werklik gesê waarom hy so teen kinders gekant was nie.

Dikwels het dit vir haar gevoel asof hy haar soos 'n kind behandel. Sy optrede teenoor haar was rede genoeg: onthou jou reënjas, moenie jou beste skoene aantrek nie, het jy 'n sakdoek, drink jou vitamienpille. Hy sou ongetwyfeld dit geniet het om 'n kind te leer, om sy eie menings en waardes op hom af te dwing, om te beheer. Maar kinders is mos nie so nie, ofhet sy haar misgis? Hulle het nie beheerbaar gebly nie. Hulle word mos
onafhanklik, gaan hul eie gang, rebelleer veral teen gesag.

Corrie se huis is net soos sy haar dit voorgestel het. Glorieryke chaos met teekiste en halfgerangskikte meubels. Boeke het verstrooid oor die vloer of op die tafels en stoele gelê. As jy wil sit, moet jy eers iets van die stoel afhaal. Op Annie se stoel het 'n groot swart kat gelê wat sy oë slaperig uit protes oopgemaak het, maar rustig en gelukkig op 'n hoop tydskrifte aan die slaap raak.

Die vertrekke is gevul met die klank van popmusiek, maar Corrie se dubbelganger sit dit vinnig af toe sy haar ma se vriendin sien en drafstap kombuis toe om 'n pot tee te maak.
Annie was gefassineerd. Met haar teekoppie in die hand luister sy na Corrie se lewensverhaal vandat hul paadjies geskei het. Die kinders storm kort-kort in om haar iets te wys, om dan weer met vele lawaai verder in die tuin te speel.

Sy dink aan die verskil toe sy en Waldemar in hulle nuwe huis ingetrek het. Alles was binne die eerste week reg en op sy plek. Die binnehuisversiering was binne drie maande voltooi en geen besoekers was toegelaat voordat die huis perfek was nie. Daar was nie veel besoekers nie, dink Annie. Net Waldemar se baas en party kollegas vir 'n formele ete, en 'n paar snobistiese bure vir skemerkelkies. Geen vriende of familie nie. Die
familie wat hulle dalk nog kon besoek het, het te ver gebly, en hulle het nog geen nuwe vriende gemaak sedert hulle hier ingetrek het nie. En, dink sy, ook nooit veel voor die tyd gehad nie.

"Ja, ek steek toe amper die kombuis aan die brand met die skyfiepan," sê Corrie, "ek dink nie ek sal ooit leer nie, Annie. Die mal dinge wat ek aanvang. Danie sê altyd ongelukke soek my uit. Het ek al ooit vir jou vertel dat ek my amper self laat blind word het?"

En daar gaan sy alweer skreeusnaaks voort, terwyl Annie luister en skoon van die tyd vergeet.

"Genade! Ek moet loop!" Paniekbevange spring Annie op. "Waldemar bel altyd hierdie tyd van die dag. Hy sal wonder wat gebeur het. En ek het nog nie eers met sy aandete begin nie. Dit sou geroosterde hoender wees, maar nou is daar nie meer tyd oor nie. Dit was heerlik om jou weer te sien, Corrie, en ek hoop werklik julle bly lekker hier, maar ek moet nou gaan of ... "
Sy kyk rond om haar handsak te kry en kry dit onder 'n sak hamster kos op die eetkamertafel.

"Of wat?" Corrie se oë blink van ondeundheid. "Wat sal hy doen? Jou verlof terugtrek? An, wil jy vir my sê dat hy werklik omgee as sy aandete laat is? Of dat jy nie vyfuur by die huis gaan wees as hy bel nie? Bel hy jou altyd dan? En is jy altyd daar?" Sy skud haar kop in ongeloof.

"As dit iemand anders was, het ek dit as 'n grap beskou." Sy staan op, hou Annie aan die skouers vas en kyk vraend in haar oë.

"Waarin het jy jouself begewe, my vriendin?"

"Niks besonders nie." Die skielike intieme noot bring trane na haar oë.

"Ek is net ... dis net die manier hoe dinge verloop het, dis al. Waldemar is bekommerd oor my. Dis heel natuurlik. Hy dink ek sal ... " Sy stotter in 'n stilte.

"Die skyfiepan aan die brand steek? Of die bad laat oorloop? Dis nie jy nie, Annie. Dis ek! Ek sal vir Danie moet stuur om met Waldemar te gesels. Hom vertel hoe dit voel om saam met 'n onfeilbare ramp te leef Wel, dan moet jy seker gaan. Maar kom kuier gou weer, jong. Hoe lyk dit met Vrydag? Of miskien volgende week? Enige tyd, An. En as ek nie hier is nie, gaan haal ek die kinders by die skool. Ons moenie weer uit voeling raak
nie."

"Jy sal by die huis wees as ek bel, nê skat?" Waldemar staan op, stoot die stoel netjies terug. "Ek was bekommerd oor jou toe jy nie dadelik die telefoon geantwoord het nie."

"Ja, lief, ek weet jy was. Jy het so gesê." Annie staan op en gaan haal sy jas en aktetas.
"Ek was nie regtig laat nie. En dit was 'n verrassing om weer vir Corrie te sien."

"Ja-a." Hy rek die woord uit, sy lippe vorentoe asof hy oordeel wil fel.

"Natuurlik is ek bly as jy vriende het, Anna, jy weet dit. Maar jy mag nie toelaat dat dit tussen jou en jou huishoudelike take kom nie. En ek moet byvoeg dat ek wonder of Corine of Corrie 'n goeie invloed op jou kan hê. Volgens julle skoolherinneringe was sy maar 'n wilde loot."

"Ek sal nie toelaat dat sy my beïnvloed nie, Waldemar. Ons is albei ouer en hopelik wyser."

"Natuurlik is julle. Ek is mos in elk geval hier om na jou om te sien. Wel, dan ... "

Hy voel-voel oor sy sakke, kyk binne-in.

"Beursie, sleutels, ja, alles is hier en gereed. Gaan kyk gou bo of ek alles het, skat? Dis nogal interessant om te sien wat mens alles nodig het vir een nag se oorslaap."

Annie drafstap boontoe om die slaap- en badkamer na te gaan. Skoon nagklere is weg, was en skeergoed, tandeborsel en -pasta, die klein houertjie en oplossing wat hy nodig het vir sy nuwe gekleurde kontaklense.
"Het jy jou bril?”, vra sy terug in die voorportaal, effens uitasem. Hy skud sy kop ongeduldig as reaksie op die idee dat hy dalk iets kan vergeet.

"Kyk goed na jouself," beveel hy haar terwyl hy by die deur uitstap. "Sluit al die deure voor dit donker is, en moenie die brandalarrn vergeet nie. Moenie aan enige iemand noem dat ek weg is nie - jy weet nooit wie se ore dit bereik nie. Ek sal jou op die gewone tyd skakel, en more is ek terug. Mooi bly."

Hy gee haar die verpligte piksoen.

"Ek hoop nie daar is baie verkeer op die snelweg vanoggend nie. Verlede week is ek vir meer as 'n uur opgehou." Sy stem verdwyn terwyl hy na die motorhuis stap, en sy hoor hoe die enjin brul.

Annie het 'n uur gewag voordat sy uitgegaan het. Sy het 'n ekstra koppie koffie gedrink en die ontbyt skottelgoed opgewas, maar hierdie keer het sy dit op die droograk gelos. Sy trek die beddens oor met vrolike lakens en gooi die stywe wit lakens eenkant neer. Die res van die huis het sy netso gelos, al het sy goed geweet dat Waldemar se hemde gelê en wag het. In 'n bad vol skuim ontspan sy terwyl sy haar hare 'n goeie oliebehandeling gee. Sy trek 'n wye bont romp aan, een wat Waldermar die horries sou laat kry het.

"Kort met ligstrepe?" vra die haarkapper. "Dit sal u nogal uitstekend pas, Mevrou. 'n Wonderbaarlike verandering, ontgetwyfeld. "

"Sal hierdie paar jeans al wees, Mevrou? Ja, ek sou wat wou gee om net u figuur te hê om in so 'n broek te kom." Die verkoopsdame se vleiende entoesiasme oortuig Annie dat sy die regte besluit geneem het. Nooit het sy kon droom dat sy so kon lyk nie. Met blink oë vra sy die verkoopsdame om die rok in die venster te bring. Dit pas haar beter as wat sy haar dit ooit kon voorstel.

So nou en dan dink Annie aan Waldemar. Hy sou nie sy bestemming voor vieruur bereik nie, selfs nog later as die verkeer dalk druk is. Die konferensie begin eers vanaand en gaan moreoggend aan. In die begin was sy nie juis ten gunste van hierdie sakereise nie, maar dit was lank terug. Waldemar was natuurlik altyd vol selfvertroue. Bestuur net asof die ander nie kan bestuur nie. So oorleef jy die verkeer. Sy filosofie.

"Wat van nog 'n koppie tee, An, of moet jy weer huistoe vir die telefoon?"

Corrie staan klaar in die deur op pad kombuis toe.

"Nee, nie vandag nie." Annie glimlag geheimsinnig. "Nog 'n koppie sal heerlik smaak, dankie."

Sy was nie haastig nie. Sy drink haar tee, gesels met die kinders en met Corrie se man toe hy huistoe kom. Die liefdevolheid tussen die twee gaan nie verlore nie. Hy vra Corrie nie wat op die spyskaart is nie. En lyk ook glad nie vies toe die hom kalmpies meedeel dat sy heeldag uit was nie. Hy soen sy vrou liggies, gevoelvol, en skop 'n paar resepteboeke eenkant toe om 'n sitplek te kry.

Hoe mooi is die sonsondergang nie, dink Annie, terwyl sy by hul oprit indraai. Dan sien sy die polisiemotor voor die huis. Sy hou stil, kry skielik koud. Stadig klim sy uit. Daar is twee persone in uniform. 'n Groot polisieman en 'n jong meisie, niks ouer as twintig nie. Hulle kom aangestap en vra of sy mevrou Van Huysteen is.

"Ons is jammer om die draers van slegte nuus te wees, mevrou, maar u man was betrokke in 'n noodlottige ongeluk op die snelweg. Hy het agter in 'n vragmotor vasgery en is opslag dood."

Die polisieman het simpatiek na haar gekyk en gewag op haar reaksie. Toe sy niks sê nie, gaan hy voort.

"Dit was ongeveer drieuur vanmiddag," het die polisieman voortgegaan, ene sersant
Du Toit. Klaarblyklik het dit sonder enige oorsaak gebeur volgens die ooggetuies. Asof hy doodeenvoudig nie die vragmotor gesien het nie.

Amper asofhy dit nie sien kom het nie. Asof sy sig geleidelik en onvermydelik deur die dag vervaag het. So pynloos dat hy dit dalk nie eers agtergekom het nie. Asof hy dit nie kon glo nie. Tog so onverbiddellik, dat hy nie die vragmotor anders as in 'n waas kon uitmaak nie.

Terwyl Annie half verwese agterbly en die polisiemotor agternakyk, wonder sy of hy iewers stilgehou het, sy nuwe kontaklense uitgehaal het en dit vervang het met sy bril. Dit sou nie veel verskil kon maak nie. Die deurnagoplossing waarin dit geweek het, sou sy horingvliese heeltemal deurtrek het dat niks die swelsel, die blindheid, die uiteindelike pyn kon verhoed nie.

Dit was net tydelik, weet sy, maar tog 'n doodsangs terwyl dit geduur het. Corrie het haar daarvan vertel. Die keer toe sy haarself amper verblind het deur haar lense in die skoonmaakoplossing in plaas van die weekoplossing oomag te laat staan. Soos Annie gisteraand met Waldemar se nuwe kontaklense gedoen het....

© Charlene Morkel 2012

Monday, October 17, 2011

Woordbos: Die Pret van Kreatief wees...

Woordbos: Die Pret van Kreatief wees...

Die Pret van Kreatief wees...

HIerdie jaar is besig om nou vinnig afdraande te hardloop en dit voel bloot vir my asof my voete hopeloos te vinnig vir my lyf beweeg.  Sulke tye dwing ek myself bloot tot stilstand, gaan sit net daar plat op die gras of in die pad, kyk rondom my en asem diep in.  Ek het my lankal daarop ingestel om in die stadige baan van die lewe te beweeg, en selfs oor te gaan na die skouer van die pad.  Die lewe is bloot te kosbaar om net verby mens te gaan sonder om alles behoorlik in te neem.

Die laaste paar weke het ek dus doelbewus die leisels ingetrek en teruggestaan.  Skryf kon en wou ek nie, en ek het my oorgegee aan ander kreatiewe uitlaatkleppe.  Soos om musse te brei wat nou al oppad is Amerika en Holland toe.  Soos om cupcakes te bak en uit te deel vir wie ook al lus het vir ‘n soete bederf in hul lewens.  Soos om in ‘n wolwinkel in te vaar en uit te stap met ‘n sakvol nuwe wol met die uitdaging om iets nuuts en uniek daaruit te skep.  En om soms net onder my boom te sit, na die berge te staar en te wonder waar my volgende woorde vandaan gaan kom. 

Intussen het ek my omring met kreatiewe siele wat toor met woorde en kwasse en naaldwerk.  Twee dierbare vriendinne bring elkeen hul nuutste boeke uit en soos ‘n profesionele sosiale vlinder kuier ons heerlik saam met ander skrywers en vriende.  Vier ons die lewe en hul suksesse en geniet elkeen se woorde.  Ek en vriendin Tanya reël ‘n WoordbosKunsKuier-oggend in kleinboet se koffiewinkel waar ons ‘n groep vroue bederf en nuwe vriendinne leer ken.  Ons kleur in, gesels, deel stories, eet kaaskoek en cupcakes (ja, alweer) en deel mekaar se lief en leed. 

‘n Vriendin bel en vra hoekom ek so skaars is, hoe kan dit wees dat ek heeldag niksdoen en steeds besig bly.  Skielik besef ek dat sommige mense werklik die wanpersepsie het dat kreatiwiteit gepaardgaan met niksdoen!  Want om musse te brei en komberse en blomme te hekel is mos nie werk nie – allermins!  Boonop is dit dinge wat mens doen wanneer jy eendag ‘afgetree’ is en jou hande moet besig hou terwyl jy wag op die dood...

Ek gaan sit en besin behoorlik oor kreatief wees.  Dit tref my tussen die oë dat daar min belewenisse in hierdie aardse lewe is wat my so goed oor myself laat voel soos kreatief wees.  Om iets te maak, te skep, te brei, te bak, te verf ensovoorts, bring ‘n wonderlike gevoel van bevrediging na vore.  As ons die geskiedenis naslaan, kom mens agter hoeveel ‘bejaardes’ eers na 60 werklik skeppend geraak het.  Guiseppi Verdi was 80 toe hy ‘Falstaff’ gekomponeer het.  Nelson Mandela het 27 jaar in die tronk spandeer voordat hy uiteindelik in sy gryse jare president van ons mooie land geword het.  Picasso het van sy beste werk in sy 80s en 90s gelewer.  Vele skrywers het eers op rype ouderdomme hul eerste skrywes gepubliseer.  So kan die lys voortgaan.  Kreatiwiteit word nie deur ouderdom aan bande gelê nie.  En om kreatief te wees, beteken beslis nie niksdoen nie.

Ons hemelse Pa het as Skepper seker die mooiste van mooi geskep deur die heelal en die mens te maak uit niks uit, deur lewe in mens en dier te blaas en ons te laat heers en woon op hierdie aarde.  Elke dag, vir 6 dae lank, het Hy iets besonders gemaak, en die sewende dag het Hy gerus.  Dit was goed en dit was mooi.  Die Skeppingsverhaal sal altyd vir my een van die mooiste stories in die Woord wees.  God was die eerste Skilder, die eerste ware Kunstenaar wat die fynste sandkorrel, die kleinste swaeltjie, die grote olifant, die mens self, met soveel detail gemaak het, dat ons steeds verstom staan.  Waarom sal ek dan skuldig voel omdat ek ook wil skep?  Omdat ek ook uit ‘n bolletjie wol ‘n knus, fraaie warm mus vir ‘n koue dag wil brei of hekel?  Omdat dit vir iemand anders mag lyk of ek niksdoen terwyl ek elke oomblik geniet wanneer die cupcake geurig rys in die oond en iewers iemand se hart gaan blymaak?

Geniet elke oomblik van kreatief wees, en wanneer jou kop vassteek en jy nie meer verder weet watter rigting jy moet inslaan nie, raak net stil, gaan staan buite in die wind, kyk na die hemelruim of na ‘n blom in jou tuin en weet dat jy deel is van ‘n ewige skildery, geskep deur ‘n God wat groter is as die heelal en laat Hom toe om jou te inspireer.  Jy is immers die kroon op sy skepping.♥




© Charlene Morkel

Wednesday, September 14, 2011

Deel 3

Stadig maar seker het my middelafhanklikheid weer gekom en gegaan.  Naweke, wanneer ons gesosialiseer het, het ek meer gereeld begin drink.  Al het ek wyn verkies, het enigiets behalwe whiskey afgegaan.  In die tydperk van Februarie tot Mei 2000 het my psigiater 11 EKB’s (skokbehandelings) op my gedoen vir my sogenaamde “depressie” wat net nie wou lig nie.  Op daardie tydstip, ten spyte van my vrese en onsekerhede, het ek dit as die korrekte optrede beskou omdat my “depressie” erger as ooit vantevore was.  Die hele proses was ‘n skok vir my liggaam en my immuniteit het by die agterdeur uitgewarrel.  Regdeur hierdie proses was ek nooit werklik eerlik oor my middelafhanklikheid nie.

In Mei 2000 het my petidien en slaappilafhanklikheid my in die donker hel van totale verslawing laat beland.  Ek was betrokke in ‘n motorongeluk nadat ek agter die stuurwiel my bewussyn verloor het.  Dit is veroorsaak deur twee petidien-inspuitings wat ek by twee verskillende dokters in ‘n kwessie van ‘n halfuur gekry het.  Ek het in my motor geklim en teruggery werk toe.  Gelukkig het niemand anders seergekry nie, maar my motor was ‘n totale wrak.  Ek het my werklas die skuld gegee en feitlik onmiddellik bedank, wat ons finansiële posisie nog verder versleg het.  Die waarheid sou eers later uitkom.

Ten spyte van my sogenaamde “gesondheidsprobleme” het alles normaal voorgekom vir die res van die wêreld.  As ‘n gesin het ons meer betrokke geraak by ons kerk se aktiwiteite, en het ons ook meer gesosialiseer.  Ons het wel tot die slotsom gekom dat die buitenshuise werk my gesondheid negatief beïnvloed het en ek het permanent by die huis gebly.  In 2001 het my middelafhanklikheid my op ‘n afwaartse spiraalrit geneem.  Ek het weereens van dokter verander.  My nuwe dokter het my van die begin af laat verstaan dat hy geen verslawende middels aan my sou voorskryf nie.  Ek het ‘n doktersbrief vervals en het morfien in die hande gekry waarmee ek myself binnespiers ingespuit het.  Die brief is nooit bevraagteken nie en ek was selfs trots op myself omdat ek daarmee kon wegkom!

2003 het met ‘n slag begin en ek het wonderlik gevoel, vol energie en lus vir ‘n nuwe jaar.  Soos gewoonlik het ek te veel op een slag probeer doen.  Wanneer ek nie meer die verantwoordelikhede kon hanteer nie, het ek begin pille sluk om aan die gang te bly.  Ek het soggens stimulante (“uppers”) soos eetlusdempers gedrink om aan die gang te kom, en saans, soms selfs al vroegmiddag, ‘n kalmeermiddel soos of ‘n baie sterk slaappil (“downers”) om weer tot rus te kom.  Later het die afhanklikheid so groot geword dat ek groot hoeveelhede moes sluk om enige uitwerking te kry.  Ek sou enigiets doen om dit in die hande te kry en het begin steel.  Van vriende en familie.  My dokter het weereens Dormicum voorgeskryf en ek was van vooraf verslaaf aan die klein blou duiwel.  Dit was die begin van die einde.

Op Vrydag 7 Maart 2003, Stephan se verjaarsdag, was ons huis gevul met vriende en familie vir ‘n lekker braai.  Ek kon skielik nie al die “verantwoordelikhede” hanteer nie en drink 20 slaappille, 10 kalmeerpille saam  met ‘n glas skoon whiskey.  Na dit kon ek absoluut niks onthou nie.  My gesin, familie, vriende, veral my twee dogters, moes aanskou hoe ek in ‘n heks verander.  Niemand het my nog ooit in so ‘n toestand gesien nie.  Wat daarna gebeur het, kan ek eerlik nie onthou nie.  Toe ek my oë die volgende oggend oopmaak, was my tas reeds gepak vir die hospitaal.  Volgens Stephan en my familie was ek heeltemal buite myself.  Ek het in handsakke en beursies rondgekrap opsoek na geld of pille.  Ek het ‘n totale gek van myself en ander gemaak voordat ek uiteindelik omgekap het.  My oudste dogter het huilend na haar kamer gevlug en het nie geweet wat om van die hele situasie te dink nie.  Sy het my nog nooit in so ‘n toestand gesien nie.  Of altans, so het ek gedink. 

Ek is gehospitaliseer met 'n drip aan die arm.  Gedurende hierdie tyd was daar middae waartydens my kinders geheel en al op hul eie aangewese was.  Anja moes male sonder tal vir Heike middagete maak en na haar kyk terwyl ek my roes lê en afslaap het.  Ek het weereens in die hospitaal beland vir “depressie” en onder die susters se neuse het ek voortgegaan om myself in te spuit.  Hier het my hemelse Vader letterlik ingegryp.  Ek het aan my dokter bely waarmee ek besig was. Sy woorde aan my was doodeenvoudig:  “Jy weet wat om te doen, Charlene.”

Om daardie oggend die telefoon op te tel en dit ook aan my man te bely, was een van die moeilikste dinge wat moes doen.  Maar ook bevrydend.  Dit sou egter nie die laaste moeilike oproep aan Stephan wees nie.    
Skaam en skuldig het ek geweet dit was die laaste strooi.  My dokter het my gekonfontreer en omdat daar kinders betrokke was, het hy die saak aan kinderwelsyn oorhandig.  Ek het 'n keuse gehad:  of ek kry behoorlike behandeling of ek verloor my mooie man en kinders. 

Vrees en desperaatheid het my oorweldig.  Ons het besluit op behandeling by Stepping Stones Rehab in Kommetjie, een van die beste in die wêreld.  Die gevolge en skade berokken aan my familie het nog steeds nie behoorlik ingesink nie.  My siekte, want dit is wat verslawing is, het my hele familie beïnvloed.  Niemand het dit regtig verstaan nie, veral nie die oorsaak of hoe om dit te oorwin nie.  Almal was hulpeloos en het skuldig gevoel, maar was veral kwaad vir my omdat hulle basies moes toekyk hoe ek myself vernietig. 

Familiewaardes en reëls was vir my irrelevant en ek het geen belangstelling getoon in enige familie aktiwiteite nie.  Ek het onttrek van my verantwoordelikhede en het soms my man en kinders verbaal misbruik.  Ek het geld van vriende en familie gesteel en daaroor gelieg.  “Mood swings” was aan die orde van die dag en ek het my frustrasies en woede op die een mens die naaste aan my uitgehaal - Stephan.  Ek was negatief, bakleierig, paranoïes, deurmekaar en angstig.  Ek het ander blameer vir my sogenaamde "depressie" en omstandighede.   

Ek het belangrike tye in my kinders se lewens gemis, soos Anja se eerste solo musiek optrede en atletiekbyeenkoms, selfs beide hul verjaarsdae.  My ouers en die res van die familie het bitterlik seergekry en ek besef dat ek almal teleurgestel en geembarraseer het.  Veral my kinders en man.  Ek het hulle soms by die skool in die verleentheid gestel en hulle het nooit geweet in watter toestand ek sou wees wanneer hulle in die middag by die skool kom nie.  My ondersteuningstelsel het my verslawing eintlik maklik gemaak – almal was altyd reg om uit te help.  Ek het Stephan se vertroue en liefde totaal misbruik  By tye het ons geen fisiese verhouding gehad nie.

Hierdie betrokke rehabilitasiesentrum het op daardie tydtip my lewe en my huwelik gered.  Dit was ‘n bitterseer tyd in ons lewens maar soveel dinge het hier na vore gekom dat ons die verslawing heelwat beter kon verstaan en die herstelpad met moed en krag van Bo kon aanpak.  Dit is dan ook hier waar ons besef het ek is as jong meisie etlike kere gemolesteer.  Die brein is ‘n magtige orgaan en ek het dit heeltemal uitgeblok.

Na rehabilitasie in 2003 het dinge vir amper 4 jaar goed gegaan.  Ek was selfs bestuurder van Lux Verbi in Somerset Mall.  In Mei 2005 het ek bedank omdat ek reeds geweet het die winkels gaan sluit.  Ek het besig gebly deur kaartjies te maak vir Craft-winkels, terwyl die kinders my in die middag besig gehou het met al hul bedrywighede.  Sedert 2001 gaan ons elke tweede jaar met ‘n busvol tieners na Decoligny, ‘n sendingstasie buite Umtata.  Om met tieners te werk, is vir beide my en Stephan ‘n passie.  In 2003 en 2005 het ons weer gegaan en ons het besef dat jongmense ons passie is.  Tussen jongmense en verslaafdes is ‘n droom en visie in ons gebore wat eers later sou gestalte kry...

Deel 4...Terugval

Na my rehabilitasie in April 2003 was ek vir byna 3 jaar skoon en ‘n herstellende verslaafde.  Ek het vergaderings van NA (Narcotics Anonymous) bygewoon, die 12-stap-program getrou gevolg, die teorie goed deurgewerk, daagliks die ‘Serenity Prayer’ gebid en alles gelees wat ek moes lees.  Ek het al die sleutels tot soberheid deeglik gebruik.  Deur dit alles en my diep geloof in God, my Hoër Mag, het ek in volle oorgawe geleef.  Ek was egter steeds te trots om ‘n ‘sponsor’ te kry – iemand wat my sou aanmoedig en help wanneer ek vasbrand.  Steeds het ek gedink ek moet alles self doen, ek kan alles self doen.

Verveeldheid is een van my snellers (‘triggers’) en op die ouderdom van 36 word ek ‘n tydelike werker by Lux Verbi in die Somerset Mall.  In Augustus 2004 word ek aangestel as bestuurder van die winkel met lang werksure, van 8vm – 7nm.  Steeds het ek getrou my vergaderings bygewoon.  Boeke, musiek, mense en God is van my grootste passies en ek het floreer in my werk.  As gevolg van my werksure het ek stadig maar seker my vergaderings en ander sleutelwerk begin afskeep.  My lewe was besig maar ek kon dit hanteer.  Gedurende Mei 2005 het ek egter bedank as gevolg van persoonlike redes.  ‘n Paar maande later het al die Lux Verbi-winkels toegemaak.

Terug by die huis het ek handgemaakte kaartjies aan verskeie winkels verskaf terwyl ons kinders my besig gehou het met hul aktiwiteite naskool.  In September 2005 is ons weer met ‘n bus vol tieners op ‘n sendinguitreik na die Oos-Kaap – die derde keer wat ons dit gedoen het.  Die lewe was ‘n lied.  Vergaderings was nie meer ‘n prioriteit nie en ek het, soos vantevore, dinge weer op my eie manier aangepak.

In 2006 is Anja hoërskool toe en ek het vir ‘n koffiewinkel begin bak.  In September beland ek in die hospitaal as gevolg van meningitis.  Alhoewel my lêer baie duidelik gestipuleer het dat ek geen petidien of kodeien mag kry nie, het ek ‘n petidien inspuiting gekry na die  lumbale punksie.  Vir my, as ‘n verslaafde, een te veel.  Reeds in die hospitaal het my brein weer oortyd begin werk en het ek begin wonder of ek ‘matig’ sal kan gebruik sonder om weer in ou patrone te verval.  As ek terugdink daaraan, besef ek hoe lagwekkend skrikwekkend sulke gedagtes is.  Reeds met daardie eerste gedagtes is die saadjie weer geplant.  Dit was net ‘n kwessie van tyd.

Ek het dit reggekry om tot Kersfees skoon te bly, maar het niks van die toerusting gebruik om eerder my gedrag en gedagtes teen te werk nie.  My verslawingsgedrag het begin inskop.  Stephan het ‘n aanbod van ‘n privaat maatskappy gekry om Januarie 2007 daar te begin werk.  Almal was opgewonde.  Kersfees het ons, soos gewoonlik, as familie saam gevier.  As gevolg van konflik tussen familielede, het ek myself onttrek, op slaappille afgekom, en, sonder om te dink, vyf gesluk.  Ek het deur Kersdag geslaap om verdere konflik te vermy – verskonings, o, verskonings.

Binne vyf dae was ek weer totaal verslaaf en op die 2e Januarie 2007 was ek terug in die hospitaal.  In ‘n kwessie van ‘n week het ek teruggeval en weer begin gebruik.  Stephan was oppad Mosambiek toe vir sy nuwe werk en ek het dringend hulp nodig gehad.  Die Strand Daghospitaal was weereens my voorland.  Dit het ‘n geweldige effek op veral my gesin gehed.  Ek was werklik nie instaat om alleen na die kinders te kyk nie.  Die meisies het by my jonger suster gaan bly.  Anja het geweier om enigsins met my te praat of selfs te besoek.  Heike het einde ten laaste kom kuier maar was afgetrokke, erg verward en baie kwaad.  Weereens het hulle bitterlik swaargekry as gevolg van my verbreekte beloftes.  Beide was skaam, kwaad, teleurgesteld en baie ongevoelig teenoor my.

Die gesondwordproses moes weer van vooraf begin.  Ek het maar altegoed besef dat ek skoon moes bly maar steeds het ek nie die basiese beginsels toegepas nie.  Om skoon en sober te bly was ‘n voortdurende stryd en ek het te gerus geraak, selfs arrogant ten opsigte van my verslawing.  Vergaderings en onderhoudswerk was van geen belang nie en ek kon steeds verskonings uitdink om dit nie te doen nie.  Daar is ‘n reuse verskil tussen skoonwees van enige middels teenoor verslawingsgedrag.  Ek mag skoon gewees het, maar my gedrag en optredes en gedagtes was steeds die van ‘n verslaafde.

Saam met Stephan se nuwe werk, het ‘n groot aantal nuwe verantwoordelikhede gekom en sy werksure was ook langer as ooit vantevore.  Met die gevolg dat ook my verantwoordelikhede by die huis meer geword het, en verantwoordelikheid is die een ding waarvoor ek nog altyg weggehardloop het.  Ek het steeds vir ‘n koffiewinkel gebak, soms spyseniering gedoen en het goed besig gebly.

My verslawingsgedrag het gesorg dat ek oor klein nietighede ‘n obsessie ontwikkel het.  Soos opmerkings deur ander dat my huis altyd in chaos is.  Ek het steeds ‘n lewenshouding gehad van alles of niks, met geen grys areas nie.  Op emosionele vlak het ek met myself geredeneer hoekom ek nie kan gebruik nie.  Dalk net wanneer ek iets (medikasie) nodig het.  So nou en dan het die mootlikheid by my opgekom om dalk ‘n vergadering by te woon maar ek het dit ligtelik afgeskud as onnodig.

In Junie 2007 het ek en Stephan Johannesburg toe gevlieg vir  ‘n formele funksie.  Na ‘n paar drankies het ek die volgende oggend wakkergeword met ‘n redelike hoofpyn en het beslis medikasie nodig gehad.  Ek het ‘n hele paar pille gedrink, later nog gekoop oppad Mpumalanga toe en so het die bose kringloop weereens begin – ek het weereens begin pille drink sonder enige werklike rede.

In die verloop van die jaar het ek afwisselend gebruik, en teen Desember was kodeien weer die baas van my heelal.  Heeltyd het my gedrag en optrede probeer regverdig en myself laat glo dat ek in beheer is.  In Desember 2007 het ‘n vriendin my genooi om ‘n koffiewinkel oop te maak op hul kleinhoewe.  ‘n Lewenslange droom het waar geword en ek het my alles gegee.  ‘Cupcakes & Roses’ het tot stand gekom en deur so besig te bly, kon ek myself ook daarvan weerhou om te gebruik.  Ek was ten volle verantwoordelik vir die koffiewinkel, het self gebak en bedien, mense onthaal en elke oomblik geniet.  Na Kersfees is ons met vakansie Hartenbos en Vleesbaai toe – ‘n heerlike ontspannende gesinsvakansie.  Terug by die huis het Stephan se werksjaar in volle vaart begin, albei die kinders was nou in die hoërskool, en ek het my hernude ywer by die koffiewinkel aangegaan.

In Januarie 2008 het die eienaar van die kleinhoewe egter uit die bloute besluit om die koffiewinkel toe te maak.  Ek het sonder enige verdere argumente opgepak en die winkel agtergelaat.  My kop was ‘n warboel van gedagtes – wat het dan verkeerd geloop?  Ek het skuldig gevoel oor iets waaroor ek geen beheer gehad het nie.  Die koffiewinkel was ‘n sukses maar tog het iets verkeerd geloop.  Ek moes gereelde kliënte inlig terwyl ekself nie die ware rede verstaan het nie.

Skielik het ek weer emosies van selfbejammering en verwerping ervaar.  Deur myself besig te hou met bakwerk en my ander stokperdjies, het ek probeer om te vergeet maar my gedagtes het verval in ‘stinking thinking.’  Weereens het ek begin pynstillers drink, ten minste 10 per dag.  In Maart 2008 word Stephan skielik as oorbodig verklaar by die maatskappy en ons wêreld het tot stilstand gekom – altans, dit is hoe dit gevoel het. 

Onsekerheid, angs, woede, frustrasie, weerbaarheid is alles emosies wat deur ons koppe en lywe gemaal het.  Ek kon dit werklik nie hanteer dat so iets met Stephan van alle mense moes gebeur nie.  Ek het vasgesteek by al hierdie emosies terwyl Stephan daardeur gewerk het, dit agter hom gesit het en vorentoe beweeg het.  Tipiese verslawingsgedrag van my.  Laringitis het my platgetrek en ek is dokter toe.  Met ‘n sak vol medikasie is ek huistoe – antibiotika, pynstillers, kalmeerpille en slaappille wat my moes ‘instaat stel’ om aan te gaan.  Terselfdertyd het ek ook ‘n petidien-inspuiting gekry – dodelik vir my as verslaafde.  Ek het myself wysgemaak ek kan dit hanteer...my terugslag was in volle swang.  Gou het ek meer nodig gehad en het my ou rondtes begin om van dokter na dokter, apteek na apteek te gaan om te verseker dat ek altyd iewers medikasie vandaan kry.  Die maklikste, natuurlik, is die pynstillers wat jy oor die toonbank kan koop.

Gedurende die Paasvakansie kon ons wegbreek en so ons gedagtes van alles wegkry.  Ek het selfs daarin geslaag om heeltemal skoon te bly.  Terug by die huis het verveeldheid my oorval.  Stephan het baie van my verantwoordelikhede oorgeneem soos kruideniersware koop, die kinders afhaal by die skool ens.  Omdat ek reeds vroeer die jaar begin terugval het, het my kop oortyd gewerk en het ek myself oorgegee aan my verslawing.

Mei was die begin van die einde.  Anja het deelgeneem aan ‘n vokale ensemble kompetisie wat ek veronderstel was om by te woon.  Bedwelmd het ek voorgegee ek het griep en tuis gebly.  Sy was diep teleurgesteld juis omdat sing vir ons albei ‘n passie is.  Brongitis het my nog ‘n verskoning gegee om medikasie te misbruik en, soos in die verlede, het ek my eie mengsels saamgestel.  Tydens ‘n familiekuier het ek weereens slaappille gesteel terwyl ek ‘n breinfloute ervaar het.  Oppad huistoe het ek tot die skokkende besef gekom dat ek my handsak vergeet het en paniek-bevange geword.  My man en familie het besef dat my ou verslawingsprobleem meer ernstig was as ooit vantevore.

Ek en Stephan het by God se voete gaan sit en dringend gebid vir ‘n ingryping.  Ons moes die komende naweek kosmaak op ons gemeente se jeugkamp – ‘n verantwoordelikheid wat my vol in die gesig gestaar het en waarvan ek nie kon weghardloop nie.  Papa se hand was steeds oor my en ons het die week en naweek oorleef deur baie genade, sonder enige onttrekkings.  Ek was vervuld juis omdat ek ander kon dien.  Etlike van die tieners wat die kamp bygewoon het, was juis verslaafdes en ons het gou aanklank gevind by mekaar.

Verveeldheid het weer oorgeneem terug by die huis en ek het ‘n petidien-inspuiting gekry vir ‘n flou migraine.  By twee verskillende apteke het ek kalmeerpille en slaappille in die hande gekry waarna ek die kinders by die skool gaan haal het.  Terwyl ek agter my sonbril weggekruip het, het ek goed genoeg besef dat ek nie instaat is om te bestuur nie, maar het tog wel.  Anja het egter onmiddellik agtergekom dat iets weer fout is omdat ek ondermeer hopeloos te vinnig oor ‘n rooi robot gery het.  Die vernedering in haar hartseer groen oë sal ek nooit vergeet nie, juis omdat ‘n maat van haar saamgery het.  Weereens het ek soos ‘n mislukking gevoel  en besef dat ek geen beheer het oor wat aan die gebeur is nie.
Gedurende die laaste naweek in Mei het ons saam met die kerkraad gaan kamp aangesien Stephan daarop gedien het.  Al wat van my vereis is, was om hom te ondersteun, maar ek het pille verkies en die tyd omgeslaap.  Wanneer ek wel by die groep aangesluit het vir etes of ‘n familie-sessie, het ek sleeptong gepraat, geen sin gemaak nie en was my oe bloedbelope.  My gesin is verneder en seergemaak voor mense wat werklik vir ons almal omgegee het.  Ek het die bodem van die diep donker put bereik.  Terug by die begin.  Terug by die huis het my man emosioneel geknak en die kinders het geweier om enigsins met my te praat.  Hulle was diep teleurgestel en het weereens my gebreekte beloftes deurleef.

Wanneer ek medikasie misbruik het, het ek uiterste emosies ervaar – ek was negatief, aggressief, beledigend en heeltemal die kluts kwyt.  ‘n Ultimatum is aan my gestel:  of ek gaan hospitaal toe en begin ernstig werk aan my herstelproses of my gesin skop my uit.  Op daardie stadium sou niemand my huisves nie – nie familie of vriende nie, aangesien almal van my groot terugval geweet het, en ek het besef ek sal werklik aan my verslawing moet werk.  Ek is weer Strand Daghospitaal toe om te ontgif.  Vir die eerste keer in ‘n lang tyd, met die hulp van ‘n psigiater, ‘n sielkundige en my gesin, het ek besef ek het dringend hulp nodig.  Op die 5e Junie is ek terug na die rehabilitasie-sentrum vir hul 14 dae terugvalprogram.

Om terug te stap deur die deure van die sentrum het verwarrende emosies by my ontlok – ek was terselfdertyd verlee, verbouereerd, ongemaklik, verward, met ‘n yslike knop op my maag, en tog ook diep verlig.  Weereens het ek gefaal en ek was bitterlik kwaad vir myself omdat ek my gesin en familie weer deur hierdie seer proses sit.  Hierdie terugslag het my laat besef dat ek die herstelpad nie alleen kan loop nie.  Wanneer dit by my verslawing kom, is ek eerlikwaar totaal en al magteloos en glad nie in beheer nie.  Daar is werklik ‘n Mag groter as ekself en ek moet alles oorgee in sy hande.

Ek het al die toerusting beskikbaar nodig om te herstel en ek moet dit ten alle tye toepas, soos die 12-stap-program.  Vir my moes die herstelproses ‘n lewenswyse word.  Die kans was 100% om alles wat kosbaar is vir my, te verloor, en dit was nie ‘n ydele dreigement nie.  Al my hoe risiko situasies is geidentifiseer en ek het al die nodige leesstof en huiswerk gehad wat my jare kon besig hou en motiveer.  Ek het deur my woede en verwerping gewerk en deur my Skepper het ek ook besef dat ek gans te maklik afhanklik raak van ander mense.  Ek moes die verlede agter my plaas en lewe vir die oomblik...een dag op ‘n slag.

Volgende:  Vervalsings, ‘n seldeur en keuses...♥





My Lewensverhaal...Deel 5...laer as drek, hoër as ‘n arend...♥

Vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde was alles onder beheer, altans, so het ek gedink.  Ek en my skoonsus het in Augustus 2008 Lapassionata, 'n drama, bygewoon op Uitkyk anderkant Stellenbosch.  Oppad terug, net voor Stellenbosch by Iddasvallei, het ek en 'n bakkie langs my saam oor 'n oranje lig gery.  'n Motor het oor die rooi verkeerslig gery, eers die bakkie getref, waarna die bakkie ons getref het.  Ons was op die sypaajie,  het afgepyl op die lamppale en van daaraf het die engele en God oorgeneem.  Die motor het 200m verder tot stilstand gekom, die as was gebreek, daar was geen remme nie en een van die voorbande het gebars.  Ons was egter ongedeerd.  Ons het onmiddellik besef die Here het ons omvou – menslik gesproke kon ek nie so bestuur nie!  Die pad was sopnat.  Die polisie en insleepdienste was ongelooflik ondersteunend.  Weereens het ek egter stilweg teruggeval, maar dit goed weggesteek.

Die terugval was die ergste ooit en blitsvinnig.  Stephan het September weer by die Stad Kaapstad begin werk en dinge het normaal voorgekom.  Die huis en kinders was weer my verantwoordelikheid en skielik was alles net te veel.  Ek het weereens ontvlugting in pille gesoek.  Soos vantevore het ek my misbruik geregverdig,  oortuig dat niemand iets agterkom nie.  Ek het net myself geflous.  Op die 17e Oktober is ek in ‘n apteek gearresteer nadat ek ‘n voorskrif vervals het.  Ek is na die plaaslike polisiestasie geneem en was vir ‘n hele dag in aanhouding.  Nooit het ek gedink dat dit ooit met my sou gebeur nie.

Terwyl ek op die koue sementbed met die dun matras gelê het, het ek tot die angswekkende besef gekom - dis dit.  Ek kon nie laer daal as waar ek nou is nie.  As ek daar op daardie bed sou doodgaan, sou dit alle probleme oplos.  Ek het myself doodgewens.  Op ‘n stadium het ek vir God gevra om my dood te maak, ek het nie kans gesien vir die gevolge van dit wat ek gedoen het nie.  Tog was ek verlig dat ek uitgevang is.  Langer kon ek nie so voortgaan nie.  Die selle was donker, sinister, die reuk het my naar gemaak, ek het laer as drek gevoel.

My enigste oproep wat ek kon maak, was seker die ergste ooit.  My mooie man se yskoue stilte aan die anderkant van die telefoonlyn sal ek nooit vergeet nie.  Hy het my pa en suster gebel en hulle het my by die polisiekantore kom ondersteun, die teleurstelling duidelike spore op hul gesigte.

My man het my borg betaal en onmiddellik in die hospitaal laat opneem vir my eie veiligheid.  Dit wat ek my familie en myself aangedoen het, kan ek nie in woorde beskryf nie.  Ons twee pragtige dogters het emosioneel geknak en my man was baie naby daaraan.  Skielik het ek besef wat dit beteken om van asemteug tot asemteug te leef.  Verslawing was ‘n daaglikse stryd en ek moet elke oggend my eie wil oorgee aan God.  Ek gaan nie weer ‘n kans kry nie.  Hierdie keer sou ek almal en alles wat vir my kosbaar is, verloor.  Ek moes gesondword vir myself.  Géén rehabilitasie kan die besluit vir my neem nie.  As ek nie self besluit en erns daarvan maak nie, sou daar nie ‘n volgende keer wees nie.  Volgende keer is ek dood.

Nadat ek uit die hospitaal ontslaan is, het my man my na my ouerhuis teruggeneem.  Sy woorde aan my dierbare pa sal ek nooit vergeet nie:  ‘Pa, ek is lief vir haar, maar ons kan nie meer nie.  Ek en die dogters is geknak, ons sien nie meer kans hiervoor nie.’

Terwyl hy geboë weggestap het sonder om te groet, het ek met ‘n skok besef hy gaan nie omdraai nie.  Die enigste mense wie my onvoorwaardelik liefhet, is besig om op die horison te verdwyn en net ek kon dit verander.  Dit het baie gebede en baie werk gekos om my man en kinders en ander familie se vertroue weer terug te wen.  Om hulle te oortuig dat ek werklik besef ek gaan nêrens weer ‘n volgende kans kry nie.  My volgende keer gaan werklik my dood veroorsaak. 

Ons het intense verhoudingswerk gedoen, ure omgebid en saamgehuil, en die meisies was doodeerlik oor alles wat ek hulle aangedoen het.  Dit was die seerste om aan te hoor, maar dis ‘n proses waardeur ons moes gaan en vandag is ek dankbaar daarvoor.  Maar terwyl ons deur alles gegaan het, het dit soms gevoel asof niks en niemand meer saakmaak nie, en as ek vandag terugkyk, sien ek absoluut God se fyn draad van genade wat deur ons lewens gevleg is.  Wéét ek dat ons nie anderkant kon uitkom sonder God se onvoorwaardelike liefde en vergifnis nie.

My hofsaak het voorgekom, gekom en gegaan.  Ek het nie ‘n idee gehad wat om te verwag nie.  Die magistraat, ‘n dierbare swartman, het my met deernis behandel en sy woorde aan my sal ek nooit vergeet nie:  “Mevrou, net jyself kan besluit of jy wil doodgaan of lewe.  Jy lyk en klink of jy wil en kan lééf – doen dit.  Kies dit.”

Ek is ‘n opgeskorte vonnis vir drie jaar opgelê wat natuurlik in werking tree die oomblik as ek weer sou oortree.  Tydens die hofsaak het ek wonderlike berading ontvang deur ‘n nuut gestigde buite-pasiënte rehabilitasiesentrum in Gordonsbaai.  Die wonderlike gedeelte is dat die Here ons as gesin wonderbaarlik bewaar het, en steeds bewaar.  Hy het vir ons 'n passie vir mense gegee, veral die in die vermaaklikheids-bedryf, omdat ons weet waaraan hulle blootgestel word en deur watter ervarings hul soms moet gaan.  My stryd is daagliks, maar dis deel van my getuienis.  Ek dink die beste persoon om eintlik mee te gesels is Stephan - hy's die Jesus-figuur in ons lewens.  Hy kon lankal uitgestap het, maar sy liefde vir eerstens die Here, en dan ek en die kinders, is wat die verskil maak.  Ons het 'n uitsonderlike verhouding en steek niks vir die wêreld weg nie.

Jammer as party goed julle dalk geskok het, maar dis die harde realiteit van 'n verslaafde.  As ek moet dink hoeveel keer ek al moes dood wees, besef ek dat God duidelik 'n ander plan met ons het - ons hele gesin, want ons is mal oor God.  Sonder Hom was ons al lankal nie meer 'n gesin nie. 

Nou ja, dis my storie.  Ons storie.  Eendag kan ons oor koffie daaroor gesels.

Intussen wil ek net die volgende byvoeg want die Here werk onverpoos.  Dalk het Hy 'n bietjie van 'n break van my nodig ...

Proloog

Een ding wat soos ‘n paal bo water uitstaan, is die feit dat ek hierdie herstelpad werklik nie op my eie kan doen nie.  Ek het God nodig, my Papa, soos ek hom met baie respek en liefde noem.  Ek het Hom werklik nodig.  Hy is die enigste Een wat my deur my verslawing kan lei, my selfs ten volle kan genees.  Deur sy genade kan ek die wêreld weer in die oë kyk.  Niemand anders kan hierdie besluit vir my, namens my neem nie.  As ek terugkyk oor my lewe, besef ek dat God  my nooit gelos het nie.  Ek het my kinderlike hart in sy hande oorgegee op die ouderdom van 15.  Hy was en is steeds altyd daar vir my.  Dit was ek wat soms sy hand gelos het.  Deur die donkerste tye, sommige tye waarin ek moes gesterf het, het Hy sy beloftes aan my gehou, my beskerm en bewaar, en my onvoorwaardelik liefgehad, steeds liefhet.  Hy het sy enigste Seun opgeoffer vir my sondes.  Papa het my vergewe en die dinge van die verlede agtergelaat.  Ek het ‘n nuwe lus vir die lewe saam met my gesin.

Ek het God soveel keer gevra om  my ten volle te genees, om hierdie duiwelse verslawing weg te neem.  In my dwaasheid het ek Hom gesmeek om my te laat sterf maar Hy het anders besluit.  Vandag is ek diep dankbaar dat daar nog lewe in my is juis sodat ek alle eer aan Hom kan gee.  Danksy God is ek vandag steeds hier en kan ek hierdie storie vertel.  My verslawing is nie van my weggeneem nie.  Dis my kruis wat ek netso aan Jesus kon oorgee en ek kan dit verduur juis deur Hom wat my krag gee.  Wanneer ek soggens wakker word, gee ek die dag en alles daarin netso in Papa se hande oor – my eerste tree in die oggend, die een ding wat my een dag op ‘n slag laat leef.  Glo my as ek sê dis harde  werk en verandering kom nie oornag of in enige kitsoplossings nie.  Ek moes steeds die gevolge dra van my optrede.  Maar ek kan dit alles doen sonder enige medikasie en grootliks danksy onvoorwaardelike liefde.

My gesin en familie is om die minste te se onbeskryflik wonderlik.  Ten spyte van alles het ek en Stephan werklik ‘n Goddelike verhouding.  Stephan het onvoorwaardelik lief en sal enigiets doen om sy familie te beskerm.  Selfs al sou dit beteken dat hy my moes los want selfs dit sou hy doen uit liefde en beskerming.  Daarom het ek soveel meer rede om elke dag in Papa se hande oor te gee.  Hy is my sterkte en krag wanneer ek swak is.

Ons kinders is twee pragtige talentvolle tieners wat elke hul eie lewe beleef. Anja is 19, 'n US eerstejaar-student, het ‘n wonderlike talent vir musiek – sy skryf en sing al haar eie songs al van jongsaf. Boonop is sy geseën met ‘n hemelse stem. Heike is die grapmaker in die gesin, speel dromme soos ‘n pro, is lief vir haar hokkie en diere, baie vas aan my en genadiglik is hulle albei akademies sterk. Hulle het egter dinge beleef wat ek geen kind toewens nie maar met die genade van Papa werk ons saam hierdeur.  Dit is nie pad besaai met rose nie en soms het ons al gewonder of dit die moeite werd is.  Maar uit al die as blom die mooiste getuienis vir God, ons Skepper, volg ons Hom met hart en siel en verstand.

 “…for when I am weak [in human strength], then am I [truly] strong (able, powerful in divine strength)” (II Corinthians 12:10, AMP).

Nog is die storie nie op sy einde nie.  Op 27 Augustus 2009 is ek in ons Afrika-huis deur drie tienerseuns helderoordag aangeval en gemolesteer.  Deur intense berading deur Geesvervulde beraders by Helderberg Rape Crisis kon ek selfs dieper delf in my verslawing en vandag weet ek dat die mens inderdaad ‘n diep geestelike wese is.

My lewe is nie meer my eie nie.  Ek het ‘n tweede-, derde-, hoeveelste kans gekry en ek het finaal ‘n keuse gemaak vir Yeshua.  As dit nie was vir Hom nie, was ek vandag letterlik dood.  Daarom gee ek Hom al die eer.  Hierdie is ook net ‘n opsomming van my lewe – die res volg in my droomboek.  Tot dan...dankie vir die raaklees.  En as jy ooit die behoefte het om te gesels, moenie terughou nie.  Een ding wat ek beslis geleer het, is dat elke mens ‘n storie het.  Dat elke mens deur donker valleie gaan, oor hoë berge moet kom.  Dat elke mens iewers langs die pad struikel en val, maar dis hoe ons opstaan wat die verskil in ons, en dalk ander se lewens maak.  Niemand is ooit té goed of té sleg nie – ons is almal immers deur dieselfde Hand geskep, of jy nou glo of nie.

Sela.

© Charlene Morkel September 2011